Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid

Preke
Na tuisblad
Matteus 1 - Eerlike stamboek, verrassende einde.

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
Voorafsang: Lb 349:1,3. Lb 335:1,2.
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Lb 329
Votum en groetseën.
Lofsang: Ps 48-1:1,5.
Geloofsbelydenis
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Verootmoediging: Jesaja 53:1-5. Romeine 5:1-12
Sang: Ps 19-3:4
Gebed
Liefdegawes
WOORDDIENS
Sang: Lb 344:1,2,3.
Skriflesing en prediking
Matteus 1:1-17
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Sb 3-3: 1,3(v),4(m),5,6.
Wegstuurseën
Sang: Amen

Fokusgedagte: Eerlike stamboek, verrassende einde.
Fokusvers:
Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.(Matteus 1:16)


OORSIG
'n Droë stamboek met 'n evangeliese boodskap: Jesus is as mens gebore uit die stamboek van Abraham en Dawid - maar Hy was nie die seun van Josef nie!
STAMBOEK VOL SWAK SKAKELS
Mense hou van die name van die grotes en vernames in hulle voorgeslagte. Die droogmakers s'n word liewers uitgewis. Matteus behou die name van swakkes om daardeur God se genade uit te lig.
STAMBOEK MET VERRASSENDE EINDE
Soos in 'n normale geslagsregister lees ons die refrein A was die pa van B, 3x14 geslagte lank. En dan, by die persoon oor wie dit eintlik gaan, word die refrein verbreek. Josef was nie die pa van Jesus nie!
Juis DAAROM is Jesus die Christus. Mens, maar meer as mens, Seun van God.

Geliefde gemeente!
Party van ons is nogal trots op ons stamboek, die geslagsregister wat vir die meeste van ons terugstrek tot daar in Europa. As daar 'n oorlogsheld was, 'n geleerde professor of ryk sakeman, wil jy graag sy naam in jou voorgeslagte genoem hê.
Maar as daar 'n skelm, moordenaar of tronkvoël, 'n sedelose vrou, 'n alkoholis, of so iemand in die voorgeslagte was, dan wil ons nie graag hulle name in die stamboek sien nie.
Vir ander mense is geslagsregisters weer vervelige goed. 'n Eindelose naamlys van vreemde persone uit die verlede. Jy leef vir vandag en môre, wie wil nou by gister vashaak?
Kan 'n geslagsregister enige waarde hêl? Maak ons ons Bybels oop by die eerste bladsy van die Nuwe Testament, begin Matteus met 'n geslagsregister!
KOM ONS LEES DIT SAAM - Matteus 1
Wat het ons hier? Waarom sou Matteus, die bekeerde Joodse tollenaar, deur die Gees gelei wees om die evangelie (die blye boodskap) met so 'n droë stamboek te begin? Waarom nie 'n opwindende stukkie geskiedenis, waarin God se almag oor sondaars en die duiwel beskryf word nie?
Dalk is julle ook soos ek (en baie ander) wat maklik hierdie hoofstuk oorslaan. Maar ek het weer 'n slag gelees, geluister, gedink en weer gelees. Toe besef ek: Hier in Matteus 1 het ons 'n droë stamboek met 'n evangeliese boodskap.Jesus is as mens gebore uit die stamboek van Abraham en Dawid - maar Hy was nie die seun van Josef nie!
Daar staan duidelik 'n opskrif, wie se geslagsregister dit is. Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham. Dit gaan oor JESUS CHRISTUS.
Die geslagsregister wil vir die lesers help verstaan wie Jesus is en waarom Hy die Christus genoem is. Maar ook vir wie hierdie besondere persoon Jesus (verlosser) en Christus (gesalfde) was.
Jesus se betekenis word in 21 verduidelik (Jy moet Hom Jesus noem), terwyl Christus die Griekse vertaling van "Messias", "Gesalfde", is. Jesus as die Seun van Dawid is die koninklike Messias wat op grond van 2 Samuel 7:12-16 deur die Jode verwag is "Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan." As seun van Abraham beliggaam Jesus Christus weer die vervulling van God se verbond met Abraham (Gen. 12:1-3; 17:1-8).
Juis dít wil die geslagslys aantoon, naamlik dat die verwagting van God se volk in Jesus vervul is. Dit is egter ook as seun van Abraham dat Jesus die belofte aan Abraham om 'n seën vir die nasies te wees, in vervulling laat gaan (Gen. 12:3; 18:18).
Met hierdie geslagsregister verkondig Matteus Jesus se geboorte in die volheid van die tyd onder die beskikking van God as die vervulling van die beloftes aan die verbondsvolk, maar ook aan al die ander nasies van die wêreld.
STAMBOEK VOL SWAK SKAKELS
Maar juis die geslagslyn oor Abraham en Dawid het heelwat swak skakels. Dawid se swakheid word nie weggesteek nie. Inteendeel, dit word by die naam genoem: Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija (1:6).
Owerspel met een van sy dapper generaals se vrou, Batseba.
Daarna 'n fyn beplande komplot om sy koninklike naam te probeer skoonhou. Maar dit werk nie voor God nie. Profeet Natan dra die boodskap van God oor: Jy is die man, Dawid.
Skuldig aan owerspel en sameswering tot die dood van een van jou getroue dienaars. Dit word nie uitgevee uit Jesus se geslagsregister nie!
So ook in die familiegeskiedenis van Abraham. Die naam Juda staan daar. Juda se nageslag tot wie die ou verbondsvolk van die Here beperk word na die ballingskap.
Juda se kindskinders word later die Jode genoem. Maar Juda se naam was ook nie skoon nie! "Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar" (1:3). Juda, die agterkleinkind van die vader van die gelowiges se kronkelpad van sonde word uitgelig. Sy skoondogter, Tamar, moes die geslagslyn laat voortgaan (Gen 38). Juda se oudste seun was egter 'n slegte mens in die oë van die Here. Hy sterf kinderloos. Die tweede oudste trou met Tamar, maar hy konkel sodat sy nie swanger kan word nie. Ook hom laat die Here sterf.
Toe was pa Juda bang dat sy derde seun ook sou sterf, wanneer hy met Tamar trou. Sy word met 'n leuen na haar ouers teruggestuur om te wag tot Sela groot is. Daarna word die lelike geskiedenis nog meer onaanvaarbaar. Tamar vermom haar by geleentheid om soos 'n prostituut te lyk en verlei haar skoonpa Juda. Uit hierdie buite-egtelike saam slaap word 'n tweeling, Peres en Serag, gebore. En so staan dit in Jesus Christus se stamboek: "Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar".
Nog was dit nie die laaste swak skakel nie. Toe die ou Israel die stad Jerigo moes aanval, maak verkenners kontak met Ragab, die prostituut. 'n Heidense vrou, wat vir hulle 'n veilige skuilplek bied. Haar lewe word daardeur gered, want sy sterf nie toe die mure van Jerigo omval nie. Ook haar naam staan in die geslagsregister van Jesus Christus: "Salmon was die vader van Boas by Ragab" (1:5).
Nog 'n heidense vrou se naam word opgeneem: Rut, die Moabitiese. Ons ken tog die geskiedenis van Elimelek, wat met die hongersnood saam met sy vrou en twee seuns vlug om onder die heidene te oorleef. Die twee seuns trou met twee heidense meisies. Daar in die vreemde sterf pa en seuns en ma Naomi bly alleen agter. Die aangrypende belydenis is opgeteken: "U God is my God, u volk is my volk". As sy na haar volk en land wou terugkeer, kies Rut om saam te gaan.
Die Here God begenadig haar en Boas trou wettiglik met die dogter van die Moabiete. So word sy die groot ouma van koning Dawid!
Maar nog is die swak skakels nie almal genoem nie. In die koningstyd sterf die hoop op God se verbondsplanne. Die geslagsregister loop dood in die sonde van afgodsdiens en ongehoorsaamheid. Die verbondsgod van Abraham en Dawid het geen ander keuse as om sy lieflingsvolk aan die heidense magte van Assirië en Babel oor te gee nie! Ballingskap! Vir 70 jaar is daar geen volk in die beloofde land nie, die tempel is verwoes, die stamboom sterf!
Tog laat vaar die God van beloftes nie alles nie. Hy bring weer nuwe lewe. Van die 12 stamme van Israel bly daar 'n oorblyfsel, die Jode, oor. Hulle neem weer die beloofde land in besit, herbou Jerusalem en die tempel. En die geslagsregister word weer voortgesit.
Waarom het Matteus die evangelie met 'n droë stamboek begin? Hy behou in die geslagsregister die name van al die swak skakels om daardeur God se genade uit te lig.
Dawid ontvang vergifnis, Juda moes met Tamar regmaak, Ragab en Rut kom uit die heidendom tot bekering.
Jesus se geslagsregister wys reeds dat Hy verlosser is.
God se genade is veel groter as wat ons soms dink. Wie vanoggend minderwaardig voel oor sy eie naam, of oor sy voorgeslagte, of oor die toestand van die Christelike kerke - jy kan uit die geslagsregister van Jesus Christus moed skep.
God verwerp nie sondaars nie, maar vergewe sondes. Sy plan vir die wêreld word ten spyte van baie swak skakels deurgevoer.
STAMBOEK MET VERRASSENDE EINDE
Die geslagsregister se hoofkarakter is aan die begin aangekondig: Jesus Christus!
Maar wanneer die hoogtepunt bereik word, val dit plat. Dit kon nie deurgevoer word nie. Jesus Christus is belowe, maar hoe kan Hy uit swakke mense gebore word? Hy is dan Seun van God, hoe kon Hy seun van 'n menslike pa wees?
Soos in 'n normale geslagsregister lees ons die refrein A was die pa van B, Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers. 3x14 geslagte lank. En dan, by die persoon oor wie dit eintlik gaan, word die refrein verbreek. Ons lees die laaste deel van die lang lys name: Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. (Mat 1:16)
Daar moes eintlik gestaan het: Jakob was die vader van Josef, Josef was die vader van Jesus. Maar ons weet dit kon nie. Josef was nie die pa van Jesus nie! Die engel het vir Josef kom sê: Jou verloofde sal swanger word, nog voordat julle saam was. Moenie van haar skei nie. Sy was nie ontrou soos Tamar nie. "wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos."
Wat 'n aangrypende verrassende einde van 'n droë geslagsregister! In die volheid van die tyd, wat gesimboliseer word deur 7x2x3 (of 14x3) geslagte. God se volmaakte tydsberekening. God wat deurvoer ten spyte van sonde in sy verbondsvolk. Net een kon waarlik Messias wees. Sy naam sê wie Hy is: Jesus die Christus. Mens, maar meer as mens, Seun van God.
My Verlosser, my Messias, my Here en my God.

Amen.
Matteus 4 - Ken jou bybel beter as jou vyand!

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
Voorafsang: Ps 84-1:1. Lb 260:1,11.
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Ps 67-2:1.
Votum en groetseën.
Lofsang: Lb 190:1,3.
BELYDENIS VAN GELOOF deur jong lidmate
Gebed.
Sang: Sb 12-3:1,2,3. Geloofsbelydenis deur gemeente.
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet: Galasiërs 5:13 e.v.
Sang: Sb 10-2. Ons Vader.
Gebed
Liefdegawes
KLEUTERS GAAN NA EIE WOORDDIENS
WOORDDIENS
Skriflesing en preek
Matteus 4
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Lb 184:1,2,3,4.
Wegstuurseën
Sang: Sb 13-2. Amen

FOKUSGEDAGTE: KEN JOU BYBEL BETER AS JOU VYAND!
FOKUSVERS:
"As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: ..."(Mat 4:6)
Jesus sê vir hom: "Daar staan ook geskrywe: ..." (Mat 4:7)


OORSIG
Dit is goed om ʼn Bybel te besit. Nog beter om te bely dat die Bybel die Woord van God is. Maar as jy nie die inhoud van die Bybel ken nie, het dit min waarde!
Het jy al agtergekom dat die mense wat dwaalleer verkondig die Bybel baie goed ken? Hoe sal jy die dwalinge kan uitken as jy nie ook jou Bybel ken nie?
Toe Jesus deur die "versoeker" (duiwel, Satan) versoek is, het hy dit wat in die Woord "geskrywe staan" misbruik. Jesus het in sy wysheid die versoeking weerstaan, omdat Hy die Skrif beter geken het. Daar staan ook geskrywe ... het Jesus geweet.
Hoe goed ken jy jou Bybel? Sal jy in ʼn wêreld met baie misleiding, wat dikwels die Skrif verdraai, by die waarheid kan bly? Sonder die waarheid sal jy nie die ware verlossingspad ken nie. Maak dit jou lewensdoel om te weet wat werklik geskrywe staan in Gods Woord!

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." (Mat 4:3)
2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. (Lk 4:2)
13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. (Mk 1:13)


Geliefde gemeente!
As ons vanoggend ʼn Bybelvasvra sou reël tussen die duiwel en ons gemeentelede, sou die duiwel dalk met die prys wegstap! Sy kennis van wat geskrywe staan, is baie goed. Hy het selfs nie geaarsel om die Seun van God te versoek nie! Wat het die versoekings ingehou?
Daar was drie versoekings:

  • "As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word." (Mat 4:3) ʼn Versoeking omdat Jesus reeds 40 dae lank gevas het.

  • "As U die Seun van God is, spring af!" (4:6)
    ʼn Versoeking om te kyk of Jesus God se beloftes glo.

  • "Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid." (4:9) ʼn Versoeking om Jesus mag oor die koninkryke van die wêreld te bekom, sonder om die lydenspad van die kruis te voltooi.

Twee maal is die versoeking om te bewys dat Hy Seun van God is. Maar dan eintlik om sy godheid te misbruik tot sy eie voordeel. Maak vir jou brood uit klippe - juis toe Jesus baie honger was. Spring af, God sal sy engele stuur om jou te beskerm.
Om versoek te word, beteken om getoets te word. Daar word gekyk hoe sterk jy staan by wat reg is.
Na die eerste versoeking verdedig Jesus Homself deur die Skrif aan te haal. "Daar staan geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom." (Mat 4:4; Deut 8:3). Vir die versoeker sê Jesus: Ek kon 40 dae vas, omdat my Vader in die hemel my versorg het. Hy is getrou aan sy Woord. Wanneer ek sy wil doen, leef ek uit sy woorde.
Met die tweede versoeking is die Satan nog meer geslepe. As Jesus die Skrif gebruik om hom te antwoord, sal die Satan dit ook doen. Hy toets Jesus se kennis van die Skrif en haal self ʼn Psalm aan. Maar sy gebruik van die Skrif is ʼn verdraaiing van die betekenis. Soos die slang, die duiwel, vir Eva verlei het, so doen hy met Jesus. Hy neem God se woorde en verdraai dit. Dit klink goed en reg, maar is ʼn leuen. Jesus kon doen, wat Eva nie gedoen het nie. Hy sien deur die duiwel se valsheid. Daarom antwoord Jesus: "Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie." (Mat 4:7; Deut 6:16). Jy mag God nie deur onverantwoordelike optrede toets of Hy God is nie, en of Hy sal doen wat Hy beloof het nie.
Die DERDE versoeking is die grootste. "Jesus, jy kan die magtige heerser oor al die koninkryke van die aarde word", sê die versoeker. "Hulle is almal onder my, die Satan, se heerskappy. Ek is die owerste van hierdie wêreld" (Efes 2:2). "Al wat jy hoef te doen, is om my te aanbid, dan gee ek jou die mag!" Waarom was dit die grootste versoeking vir Jesus? Omdat Hy toe aan die begin van sy pad van lyding gestaan het. ʼn Verskriklike tyd het vir Hom voorgelê. Die Satan het Jesus versoek deurdat Hy kortpad kon neem, die lyding vryspring, en tog heerskappy oor die aardse koninkryke kon kry. Die belofte van die Vader was egter daar dat Jesus, nadat alles voltooi is (kruis en opstanding), na die regterhand van die Vader verhoog sou word. Dan sou Hy nie net oor die aardse koninkryke nie, maar oor alles (uitgesonder die Vader) heerskappy kry.
Jesus weerstaan egter die duiwel. Weereens is dit die kennis van God se woord wat Hom vas laat staan in die versoeking. "Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien." (Mat 4:10; Deut 6:13).
Jesus ken die Woord van God en die God van die Woord beter as die duiwel. Daarom kon Hy staande bly teen hom. Daarna het die duiwel hom met rus gelaat. Engele is gestuur om Jesus te versorg.

HOE KAN ONS STAANDE BLY?
Ons moet die Bybel beter ken as ons vyande.
Dit is goed om ʼn Bybel te besit. Nog beter om te bely dat die Bybel die Woord van God is. Maar as jy nie die inhoud van die Bybel ken nie, het dit min waarde!
Het jy al agtergekom dat die mense wat dwaalleer verkondig die Bybel baie goed ken? Hoe sal jy die dwalinge kan uitken as jy nie ook jou Bybel ken nie?
Toe Jesus deur die "versoeker" (duiwel, Satan) versoek is, het hy dit wat in die Woord "geskrywe staan" misbruik. Jesus het in sy wysheid die versoeking weerstaan, omdat Hy die Skrif beter geken het. Daar staan ook geskrywe ... het Jesus geweet.
Hoe goed ken jy jou Bybel? Sal jy in ʼn wêreld met baie misleiding, wat dikwels die Skrif verdraai, by die waarheid kan bly? Sonder die waarheid sal jy nie die ware verlossingspad ken nie. in Efesiërs 6 word ons aangemoedig om die wapenrusting van God op te neem. Dan alleen kan ons en sal ons die Bose kan weerstaan. Sy aanslag is nie ligtelik nie. Nee, dit is hewig. Op jou eie sal nie kan staande bly nie. Een deel van die wapenrusting is die Woord. "Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God." (Efes 6:17).
Maak dit jou lewensdoel om te weet wat werklik geskrywe staan in Gods Woord! Dit is belangrik vir elke kind, vir elke persoon wat belydenis van geloof gedoen het, vir elke ouer, en oupa en ouma. Predikante, ouderlinge en diakens sal nie by die waarheid kan bly, sonder deeglike kennis van die Woord van God nie.
Vir elkeen wat die Woord daagliks lees, sal die Heilige Gees toerus om teen elke versoeking van die Duiwel staande te bly. Ons kan as oorwinnaars voortgaan. Doen soos ons in Jakobus 4:7 die opdrag kry: "Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug."
Hy het van Jesus weggevlug. So sal hy ook van jou wegvlug. Vertrou God, trek sy wapenrusting aan, bemagtig jou deur kennis van die Bybel. So sal jy met sekerheid van jou verlossing kan lewe om eendag in die heerlikheid van God opgeneem te word.

Amen.
Matteus 7 - Leer jou kind om by die Vader te vra

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS - JEUGFOKUS
Voorafsang: Lied 197:1,2. Sb 3-4:1
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Lb 542:1,2.
Votum en groetseën.
Sang: Ps 18-1:1
Geloofsbelydenis
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet: Grafies
Sang: Ps 119-2:3 (Jongmens)
Gebed
LIEFDEGAWES WORD OPGENEEM
KLEUTERS GAAN NA EIE WOORDDIENS
WOORDDIENS
Skriflesing en preek
Matteus 7:7-12
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Lb 428: 1, 2 (lees), 3.
Wegstuurseën
Sang: Sb 13-3 Amen

FOKUSGEDAGTE: LEER JOU KIND OM BY DIE VADER TE VRA.
FOKUSVERS:
“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matteus 7:7-8)


OORSIG
As ons ons kinders leer om te bid, moet hulle vrymoedigheid kry om met die groot God as hulle Abba Vader te praat. ʼn Kleuter se opregte gebed, waarin vir roomys en die hondjie se kleintjies dankie gesê word, is so kosbaar. Maar ook wanneer gevra word om pappa, mamma, oupa en ouma, en al die maatjies (elkeen by die naam), op te pas!
PASSIEVOL
Om passievol te bid, is om met hart en siel en verstand betrokke te wees wanneer jy met die hemelse Vader praat. Die vrymoedigheid om Hom as Vader aan te spreek, word deur die Heilige Gees in ons harte gewek (Rom 8:15). Die Gees wat aan ons gedoopte kinders beloof is, maak ook vir hulle die bidpad na die hemelse Vader oop. Dan is dit regtig passievol.
SMEEK – VRA
Jesus moedig skaamteloos aan: Vra, soek en klop! Julle sal kry, vind en daar sal oopgemaak word. In 'n gebalanseerde gebed het vra ook ʼn plek. Selfs om te smeek! Daardeur erken ons dat ons niks kan doen of besit buite die Vader se wil nie. Ons kan juis vir die Vader vra, omdat ons seker is dat Hy vir ons net die beste sal gee. Leer self om tevrede te wees met wat Hy gee, en leer ook jou kinders so!

Liewe Kinders en ouers,
Vanoggend hoor ons ʼn baie mooi en belangrike boodskap uit die Bybel. Die Here Jesus leer ons iets oor God, wat ons harte kan bly maak so lank as wat ons leef.
Hy gebruik 3 woordjies daarvoor: vra, soek en klop.
Dit is wat ons in gebed mag doen.
Ons het 'n Abba (Pappa) in die hemel. Hy is die groot en magtige God. Ons leer om te bid. Bid is om met God die Vader te gesels. Ons het verlede week gehoor dat ons Hom moet loof en prys, omdat Hy ons koning is. En nou leer Jesus ons dat ons in ons gesels met Hom mag vra, soek en klop.
En die belofte is: Vir die wat vra, sal gegee word. Die wat soek, sal kry. En vir die wat klop, sal oopgemaak word!
As ons ons kinders leer om te bid, moet hulle vrymoedigheid kry om met die groot God as hulle Abba Vader te praat. ʼn Kleuter se opregte gebed, waarin vir roomys en die hondjie se kleintjies dankie gesê word, is so kosbaar. Maar ook wanneer gevra word om pappa, mamma, oupa en ouma, en al die maatjies (elkeen by die naam), op te pas!
Ons groter kinders bid al bietjie anders. Maar ook ons tieners moet vanoggend hoor. Jy het ʼn Vader in die hemel. Jy mag tot Hom bid. By Hom mag jy vra, soek en by Hom aanklop. Hy weet wat ons nodig het, maar wil ook hê dat ons sal leer om te vra.

PASSIEVOL
Om passievol te bid, beteken nie dat ons soos die Baäl priesters moet skree en raas, of emosioneel moet gil en dans nie. Jesus het mos geleer: Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. (Mat 6:7)
Ons hoef ook nie soos die skynheiliges (mense wat voorgee om goeie Christene te wees) op die straathoeke te staan en bid, sodat die mense hulle kan sien nie.
Ons kinders kan passievol bid wanneer hulle in hulle kamer is, of saam met pappa en mamma aan etenstafel.
Passievol beteken dat ʼn mens met hart, siel en verstand sal bid. Met jou hart, omdat jy vir God lief is. Met jou siel, omdat jy werklik beleef wat jy met Hom praat. Met jou verstand, omdat jy mooi gedink het wie God is, waarom jy met Hom mag praat, en dat Hy regtig jou gebed hoor.
Om regtig passievol en sonder om bang te wees met ons Vader in die hemel te praat, is ʼn groot geskenk van die Here. Ons verstaan dit nie mooi nie. Tog voel ons dit aan. Die Bybel leer ons dat die Heilige Gees vir ons die vrymoedigheid gee. Hy vat die bangheid weg. Hy laat ons soos kinders met ons Vader praat, al is Hy dit groot en almagtige God. Al is Hy die Skepper van hemel en aarde!
Vir ons kinders wat gedoop word, beloof die Heilige Gees dat Hy in ons wil woon en ons nuut wil maak, sodat ons elke dag meer seker word dat ons kinders van die Abba Vader is. Die Gees van die Here is soos ʼn krag en stem wat in ons harte en gedagtes praat, wat vir ons die pad na die hemel toe oop maak.
Dit is regtig om passievol te bid – vir kinders en grootmense.

SMEEK – VRA
Jesus moedig sonder om skaam te wees vir ons aan: Vra, soek en klop! Julle sal kry, vind en daar sal oopgemaak word. 'n Wonderlike belofte.
In 'n gebalanseerde gebed het “vra” ook ʼn plek. Selfs om te smeek! Wanneer ons smeek dan bid ons nog ernstiger en langer en meer dringend tot die Vader. Ons vra nie so effentjies en los dit maar nie. Dit is soos ʼn matriekseun wat graag wil gaan studeer, maar sy pa wil eintlik hê dat hy sy plaas moet oorneem. Dan praat die seun baie keer daaroor met sy pa, omdat hy glo dat sy pa hom liefhet en net die beste vir hom wil hê. So ʼn pa gee ook later toestemming, want sy seun het daarvoor gesmeek!
Wanneer ons in ons gebede smeek, dan erken ons dat ons niks kan doen of besit buite die Vader se wil nie. Hy weet wat ons nodig het, wat vir ons goed is, waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Daarom vra ons smekend, passievol, vir hom en nie net vir mense nie.
Ons kan juis vir die Vader vra, omdat ons seker is dat Hy vir ons net die beste sal gee. As Jesus aanmoedig dat ons moet vra, soek en klop, dan beteken dit nie dat ons beheer het oor God se gawes nie. Ons sal nooit ontvang wat ons skade kan doen nie. Selfs al verstaan ons soms nie waarom die Vader nie gee wat ons gedink het sal goed wees nie, kan ons regtig aanvaar dat Hy vir ons lief is. So lief is vir ons, dat Hy nie slegte goed vir ons sal gee of toelaat nie. Daardie goed wat ons van Hom kan laat wegdwaal, of wat ons trots en hoogmoedig sal maak nie.
Kom ons leer self om tevrede te wees met wat Hy gee, en leer ook jou kinders so!
Amen
Matteus 7 - Om "Here, Here" te sê, kan leë woorde wees.

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
Voorafsang: Lb 190:1,2,3. Ps 25-1:2. Sb 3-4:1,2.
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Ps 84-2:2
Votum en groetseën.
Sang: Ps 47-1:1,4.
Geloofsbelydenis
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet: Romeine 8
Sang: Lb 241:1
Gebed
LIEFDEGAWES WORD OPGENEEM
KLEUTERS GAAN NA EIE WOORDDIENS
WOORDDIENS
Sang: Sb 12-3: 1,2,3.
Skriflesing en preek
Matteus 7
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Ps 145-2:1,3,5
Wegstuurseën
Sang: Sb 13-2. Amen

FOKUSGEDAGTE: OM “HERE, HERE” TE SÊ, KAN LEË WOORDE WEES.
FOKUSVERS:
Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (Matteus 7:21)


OORSIG
Ons leer van kleins af om God as “Here” aan te spreek, ook as ons Vader. Ons bid “Here, Here”. Ons roep om hulp “Here, Here”. Ons bely ons geloof in “Ons Here”. As Jesus nou sê: “NIE ELKEEN wat vir My sê “Here, Here” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie” skud dit my geloofshuis se fondamente. Watter sekerheid het ek oor my geloof in my “Here”?
HERE, HERE!
Jesus se dissipels het Hom “Here” genoem. Daarmee het hulle Hom as Seun van God en Messias erken. “Here” beteken iemand met gesag oor jou. “Here” beskryf ook die besondere band tussen leier (eienaar) en volgelinge. Baie mense, die 12 dissipels en ander, het Jesus gevolg en “Here, Here” genoem. Hy waarsku: Om net “Here, Here” te sê, is geen versekering van jou burgerskap van die hemelse koninkryk nie.
MAAR ONS DOEN TOG MEER!
Mense gebruik Jesus se Naam “Here” in preke, om demone uit te dryf en wonders te doen. Is dit nie ʼn ʼn bewys van hulle koninkrykburgerskap nie? Ook dit kan om die mens self gaan en nie om die Vader se eer nie.
DOEN JY DIE VADER SE WIL?
Om die Here Jesus te ken, selfs om sy Naam te bely, of om sy Naam vir godsdienstige handelinge te gebruik, kan nog steeds nutteloos wees. Geloof en werke moet een wees. Gehoorsaamheid aan die Vader se wil is bewys van ʼn lewende geloof. Nie as ʼn ekstra goeie daad nie, maar as bewys dat jou godsdiens om God gaan. Die Vader vra geloof in Jesus Christus, ja, maar ook selfverloëning, “laat U wil geskied” gesindheid, kruis dra, getrouheid, goeie vrugte dra.

Liewe gemeente,
Wanneer Christus weer as regter kom, sal dit nie net mense se geloofsbelydenis wees wat tel nie, maar hulle belydenis soos wat dit sigbaar word in die manier waarop hulle leef.
Hier is vanoggend sekerlik nie een van ons in die kerkgebou, wat die God van die Bybel nog nie as Here aangespreek het nie. Ons leer van kleins af om Hom “Here” te noem, ook as ons Vader. Ons bid “Here, Here”. Ons roep “Here, Here” as ons in die nood is. Ons bely ons geloof in “Ons Here”.
As Jesus nou sê: “NIE ELKEEN wat vir My sê “Here, Here” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie” skud dit my geloofshuis se fondamente. Watter sekerheid het ek dan oor my geloof in my “Here”?

HERE, HERE!
Jesus was uiterlik 'n mens soos alle Joodse mans. Sy gesig het nie gestraal nie. Hy het nie spesiale klere gedra nie. Hy was bekend as die seun van Josef, die man wat houtwerk in Nasaret gedoen het. Die mense het Hom Jesus genoem – ʼn algemene Joodse naam, of seun van Josef. Dalk sou iemand wat Hom hoor preek het na Hom verwys as die rabbi.
Maar Jesus se 12 dissipels het Hom “Here” genoem. Dis die Griekse woord Kurios. Die Griekse Vertaling van die Ou Testament se Hebreeuse woord Jahweh. Daarmee het hulle erken dat Hy meer as mens was. Hy was vir hulle nie net seun van Josef van Nasaret nie, maar ook Seun van God en Messias. “Here” beteken iemand met gesag oor jou. “Here” beskryf ook die besondere band tussen leier (eienaar) en volgelinge.
Al meer mense het Jesus gevolg en Hom “Here, Here” begin noem. Hulle het sy wonders gesien, sy gesagvolle preke gehoor, sy liefde beleef. Maar nou waarsku Hy: Om net “Here, Here” te sê, is geen versekering van jou burgerskap van die hemelse koninkryk nie. God kyk na meer as net die mooi woorde.

MAAR ONS DOEN TOG MEER!
Jesus gaan oor tot ʼn hofsaakstyl. Hy verwys na “daardie dag”. Uit ander Skrifgedeeltes en hierdie konteks bedoel Jesus daarmee die dag van oordeel, wat met sy wederkoms sal plaasvind. Dan sal die egtheid van ons belydenis en gebede, wanneer ons “Here, Here” sê, beoordeel word.
Daar is ʼn uitspraak: Julle sal nie ingaan in die Koninkryk van die hemel, net omdat julle “Here, Here” sê nie.
Dan kom die verdediging:
MAAR ... ons het meer gedoen as om net vir U Here, Here te sê! Ons het u Naam op drie ander manier ook gebruik!
  • Ons het in u Naam gepreek.

  • Ons het in u Naam demone uitgedryf.

  • Ons het in u Naam wonders gedoen.

Is dit nie genoeg, sodat ons toegang tot die koninkryk van die hemel kan kry nie?
Weereens ruk Jesus se antwoord my wakker uit my rusbank geloofsekerheid.
“Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” (Mat 7:23)

Twee redes waarom selfs preke en wondertekens en demone uitdrywing nie opregte godsdiens kan wees nie:
  • Ek het julle nooit geken nie – Jesus praat hier van valse predikers of profete. “Hy ken hulle nie” beteken dat hulle nie sy volgelinge is nie. Hulle is nie in sy dissipelkring, wat Hom eer as koning van die hemelse koninkryk, nie.

  • Julle oortree die wet van God – julle is bome wat slegte vrugte dra. Julle sal uitgekap en verbrand word, want julle is valse profete (Mat 7:19). Julle lyk en klink godsdienstig, maar julle dien julle eie koninkryk. Julle mislei dalk baie mense, maar God sien julle motiewe raak.

Hierin lê ʼn ernstige waarskuwing vir ons gemeente vandag. Ons moet leer om fyn te onderskei wanneer mense in die Naam van die Here dinge doen. Later in sy bediening het Jesus ook gesê:
“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.” (Mat 24:23-24)

Die toets is: Is die mense aan God gehoorsaam? Is dit opregte Godsdiens of ʼn valse tipe godsdiens, waarin die wil van mense voorop staan? Paulus het dit reeds beleef dat mense die woorde van Jesus verdraai het, dat daar allerlei voorskrifte gegee is oor eet en drink, waardeur mense se gewete gebind is met dinge wat nie Jesus se opdrag was nie. Hy skryf aan Timoteus:
“Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak.” (1 Tim 6:5)

In ons tyd word die misleiding al erger. Die media is ʼn instrument in die hande van valse profete. Deur televisie, boeke, tydskrifte, en sosiale media, word “Here, Here” geroep – tog word God se wil nie uitgevoer nie. Selfs wonderwerke en uitdrywing van demone word as “bewyse” aangevoer dat hulle in diens is van die ware God. Tog gaan dit dikwels om persoonlike koninkryke, rykdom en eie grootheidswaan. Dit skok ʼn mens om te sien hoe maklik mense mislei word.
Ons kan onsself toerus deur kennis van God se Woord, deur ʼn lewende verhouding met Hom, deur opregte gebede. God gee wysheid aan elkeen wat daarvoor vra. Deur sy Gees kan ons die valse profete uitken. As die vrugte nie pas by die wil van God nie, weet ons om die bome te vermy.

DOEN JY DIE VADER SE WIL?
Die vraag is egter ook oor ons eie verhouding met die Here. Ons wat bely “Here, Here”. Ons wat bid “Here, Here”. Ons wat preek “Here, Here”. Doen ons ook die Vader se wil? Hoe leef ons as belydende lidmate uit wat ons vir ons kinders leer. Wetenskaplike navorsing onder jong mense wat die kerk verlaat het onder andere valsheid van die ouers as rede genoem. Ouers wat ewe vroom bely “Here, Here”, wat lidmate van gemeentes is, maar wat in hulle persoonlike lewe nie die wil van God soek nie. Ons kinders sien dwarsdeur ons valsheid. Die vrugte wat ons dra, pas nie by die boom wat ons voorgee om te wees nie.
Kom ons hoor dit vanoggend duidelik in Jesus se vermaning: Om die Here Jesus te ken, selfs om sy Naam te bely, of om sy Naam vir godsdienstige handelinge te gebruik, kan nog steeds nutteloos wees. Geloof en werke moet een wees. Gehoorsaamheid aan die Vader se wil is bewys van ʼn lewende geloof. Nie as ʼn ekstra goeie daad nie, maar as bewys dat jou godsdiens om God gaan.
Die Vader vra geloof in Jesus Christus, ja, maar ook selfverloëning, ʼn gesindheid van “laat U wil geskied” – ek is bereid om my eie wil neer te lê en God se wil bo alles te stel. Jesus vra dat ons die kruis sal opneem en Hom volg. Paulus verduidelik dit in terme van sterwe en opstaan in ʼn nuwe lewe. God vra getrouheid tot in die kleinste.
Kom ons toets predikers wat in Jesus se Naam preek, wonders doen en demone uitdryf, aan hulle bereidheid om God eerste te stel.
Kom ons maak erns daarmee om ons eie belydenis van “Here, Here” opreg te laat wees. Wie vals is, sal geen deel aan die koninkryk van die Hemel hê nie. Maar hulle wie se woorde en dade getuig van ʼn opregte geloof, kan seker wees van hulle ewige redding.
AMEN
Matteus 13 - Gelykenisse – vir sommige sluit dit oop, vir ander toe!

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
Voorafsang: Ps 8-1:1. Ps 107-1:1,10.
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Lb 163
Votum en groetseën.
Lofsang: Lb 219:1,2,3.
Geloofsbelydenis
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet: Jakobus 2:1-13
Sang: Lb 292:1
SAKRAMENT VAN DIE DOOP
Sang: Lb 292:2
Gebed
Liefdegawes
KLEUTERS GAAN NA EIE WOORDDIENS
WOORDDIENS
Sang: Sb 14-3:4
Skriflesing en preek
Matteus 13:1-3; 10-17; 18-19; 34-35.
Matteus 21:33-46.
ANTWOORDDIENS

Gebed.
Sang: Lb 258:1,3.
Wegstuurseën
Sang: Sb 13-1. Amen

FOKUSGEDAGTE: GELYKENISSE - VIR SOMMIGE SLUIT DIT OOP, VIR ANDER TOE!
FOKUSVERS:
Die dissipels het vir Jesus kom vra: "Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?" (Matt 13:10)


OORSIG
Gelykenis - ʼn verhaal met 'n dieper betekenis. Nee, nog meer. ʼn Verhaal waarin Jesus die koninkryk van God bekend maak - maar nie almal verstaan dit nie.
Ons kyk Sondagoggend saam na die doel van gelykenisse, want dit maak 'n groot deel van Jesus se preke in die Evangelies uit.
Ons lees ook een van die bekendste gelykenisse: Die saaier. Of is dit dalk nie so bekend nie?
Wat beteken dit dat mense hoor en "nie verstaan nie"? Waarom kry die Bose (duiwel) die reg om saad van die Woord op te pik voordat dit kan begin groei?
Hoe meer ons lees, hoe angstiger ons is om te leer, hoe aandagtiger ons luister en inneem, hoe beter sal ons die wonder van die koninkryk en sy Koning Jesus verstaan!

Liewe gemeente!
In hierdie 4 weke Fokustyd kyk ons hoe ek die meeste waarde uit Bybellees kan put. Ons het aan die begin gesê dat die Bybel aan ons gegee is om ons verhouding met God te versterk, dat ons Hom sal vertrou en 'n pad saam met Hom sal loop. Ons het ons ook reeds gesien dat ons die HELE BYBEL moet lees om die evangelie (verlossingsboodskap) te verstaan. Ons het verlede Sondag klem gelê daarop, dat ons op 'n verantwoordelike manier moet Bybel lees. Dan kan ons God se openbaring van toe tot nou verstaan. Dan sal ons verhouding met Hom groei en ons sy koninkryk met meer toewyding wil dien.
Vanoggend kyk ons na Jesus se prediking. Dit was uniek, met gesag, anders as die skrifgeleerdes van destyds. Groot dele van sy preke was in gelykenisse. Daarom is dit belangrik dat ons gelykenisse verstaan. Wat leer Hy daarin vir ons?
ʼn Gelykenis is ʼn verhaal met 'n dieper betekenis. Nee, nog meer. ʼn Verhaal waarin Jesus die koninkryk van God bekend maak - maar nie almal verstaan dit nie.
Gelykenisse is nie maklike verhaaltjies vir ons jonger kinders nie. Nee, selfs skrifgeleerdes van Jesus se tyd kon dit nie dadelik verstaan nie. Daarom moet ons dit met aandag lees, sodat ons die regte boodskap daaruit kry.
In Matteus 13 word belangrike dinge hieroor gesê.

KOM ONS LEES SAAM DAARUIT...

Die mense het nie almal verstaan wat Jesus preek nie. Die dissipels vra dan vir Jesus: "Waarom praat u in gelykenisse?" Daarop antwoord Hy:
"Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie." (Mat 13:11)
Wat is die geheime van die koninkryk van God? Johannes die Doper het gepreek: "Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom!" Met Jesus se optrede breek die hemelse koninkryk deur op die aarde. Die geheim, wat aan die dissipels bekend gemaak is, is dat Jesus die koning van die hemelse koninkryk is. Hy is die vervulling van die profesieë oor die Messias. Almal wou dit nie aanvaar nie, maar Jesus het hierdie 12 manne geroep en Homself aan hulle bekendgemaak. Totdat Petrus later kon bely:
"U is die Christus, die Seun van die lewende God"
Die Vader het dit aan Petrus bekend gemaak. Die geheim van die koninkryk van God is Jesus. Aan die dissipels is dit gegee om Hom te leer ken en te erken dat Hy die koning is.
Dis egter nie al wat Jesus oor sy keuse om in gelykenisse te leer, gesê het nie. Hy antwoord verder:
"Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie." (Mat 13:13)
Mense verstaan nie! En oor hierdie verstaan vertel Jesus dan die gelykenis van die saaier.
Die twee teenpole in die gelykenis is aan die een kant die mense wat nie verstaan nie. Daarom gaan die Woord by hulle verby en dra geen vrug nie. Aan die anderkant is daar die mense wat verstaan en baie vrug dra.

KOM ONS SPRING EERS NA ONS EIE GEMEENTE EN DIE AANHOOR VAN DIE WOORD VANOGGEND TYDENS DIE EREDIENS. Ons dink ook aan HUISBESOEKE, waar ek of die ouderlinge ook uit die Bybel lees, bemoedig en die regte pad aandui. Waarom dra die Woord by sommige vrug en by ander glad nie? Waarom is daar bekering en nuwe gehoorsaamheid aan die Here, maar by ander lidmate is daar geen verandering nie? Daar is lidmate wat elke Sondag in die erediens sit, kinders wat gereeld in die katkisasieklas is, maar dit is asof die Woord nie tot hulle deurdring nie. WAAROM?
Jesus verduidelik in die gelykenis van die saaier soos volg. Eers sê Hy:
"Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk HOOR maar dit NIE VERSTAAN NIE, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is." (Mat 13:19)
Die Bose (met hoofletter) is die duiwel self. Hy is soos die voëls wat die saad wat gesaai is oppik sodat niks ontkiem en vrug dra nie. Dit gebeur ook vandag, tydens die erediens, met huisbesoek, wanneer ek na godsdiens oor die radio of TV luister. Soms pik die Bose dit op voordat dit die hart kan verander.
Waarom gebeur dit? Waarom verstaan sommige mense nie? In die gelykenis sê Jesus:
"'n deel van die saad het op die pad geval"
Die pad is hard getrap, die saad bly bo-op lê en die voëls pik dit op. So is mense wat hoor ook soms. Hulle gesindheid teenoor die Bybel en die Here is verhard. Hulle luister, maar is negatief ingestel teenoor die prediker en sy boodskap. Hulle hoor, maar verstaan nie.
Om dit beter te verduidelik haal Jesus uit die OT aan. In die tyd van Jesaja, die profeet, was dit ook so. Hy het die volk vermaan oor hulle sondes van afgodsdiens en oppervlakkige dien van die Here, maar hulle het hulle nie bekeer nie. Toe het God, wat vir Jesaja gestuur het, verduidelik:
"‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie,
en kyk en kyk en tog niks sien nie. 15Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie. (Mat 13:14-15)
Hierdie profesie het in Jesus se tyd in vervulling gegaan.
Dit sê duidelik waarom die Bose kans kry om die woord van die koninkryk uit mense se harte weg te neem. Mense verstaan nie, omdat hulle hulle ore toegedruk het en hulle oë toegemaak het, sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer nie.
Die rede waarom mense nie die Here Jesus volg, gehoorsaam en dien nie, lê nie by die woord nie. Die kwaliteit van die woord is goed, soos die saad van die boer. Die probleem is ook nie by die prediker, by Jesus of die predikante of ouderlinge nie. Die woord word gesaai! Die rede waarom mense nie verstaan en tot bekering kom nie, lê by hulleself! Hulle wil nie hoor nie, wil nie sien nie, wil nie hulle gesindheid teenoor die koning van die koninkryk verander nie.
Die verskriklike gevolg daarvan is dat die woord wat lewe bring, die boodskap van die Here Jesus wat genesing kan gee en mense van die Bose wil verlos, op 'n verharde hart te lande kom. Dit dring nie in nie, omdat mense dit nie wil verstaan nie. Hulle harte is so hard soos die pad tussen die landerye. Die saad word opgepik en is verlore!
Is dit dalk hoe jy na die Woord luister, broer en suster, kinders? Hoor jy, maar verstaan nie, omdat jou hart verhard is? Verander dan jou gesindheid. Ek bid saam met jou dat die Gees van God daardie verharde hart sal sagmaak en dat die woord van verlossing sal vrug dra in jou lewe.

Weet jy, dit kan soveel anders wees! Jesus vertel verder. Lukas se weergawe stel dit baie mooi:
"Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra." (Luk 8:15)
So kan ons ook wees, gemeente! Hoor die woord, bewaar dit - bêre dit diep in jou hart, oordink dit, luister met aandag, maar volhard ook om vrug te dra. Doen wat Jesus sê. Bekeer jou van ʼn eiewillige lewe. Dit loop op die dood uit. Jy is nou reeds geestelik siek en dalk heeltemal dood. Maar op die einde, sal jy geen deel aan die hemelse hemelryk hê nie.

Nou verstaan jy dalk beter waarom ek aan die begin gesê het dat die gelykenisse van Jesus nie eenvoudige kinderverhaaltjies van ʼn saaier, saadjies en voëltjies is nie. Nee, dit is diep woorde. Die koning Jesus se woorde.
Daarom roep Hy uit, nadat Hy die gelykenis vertel het: "Wie ore het en kan hoor, moet luister!" (Mat 13:9). Kom ons luister, hoor en verstaan! Jesus is die Koning, wat mens geword het, sodat ons op die pad na sy koninkryk kan wandel. Op grond van sy verlossingswerk het Hy ons deel van sy ryk gemaak. Daarom leef ons nou en tot in ewigheid. Hy is oorwinnaar en saam met Hom kan ons die Bose finaal oorwin.

Amen.
Matteus 16 - Word soos kindertjies.

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
Voorafsang: Ps 50-1:1,11. Lb 519:1,2,3,4.
Stil gebed.
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Ps 43-2:2
Votum en groetseën.
Sang: Ps 149-2:1,2.
Geloofsbelydenis
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet: Romeine 11 en 12
Sang: Ps 19-3:3
Gebed
BEDIENING VAN DIE DOOP
Sang: Lb 292:1,2.
Gebed
LIEFDEGAWES WORD OPGENEEM
KLEUTERS GAAN NA EIE WOORDDIENS
WOORDDIENS
Skriflesing en preek
Matteus 18:1-7
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Sb 1-2:1,2,3.
Wegstuurseën
Sang: Sb 13-2. Amen

FOKUSGEDAGTE: WORD SOOS KINDERTJIES.
FOKUSVERS:
Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. (Matteus 18:4)


OORSIG
As ons op 'n Sondagoggend sou vra: Wie is die belangrikste in die gemeente? Dan sou ons aarsel om te sê. Daar kan antwoorde wees soos: ons oudste lidmaat, die getrouste ouderling, die hardwerkendste diaken, ...
Jesus was egter dadelik reg met 'n antwoord. Hy roep ʼn kindjie nader en verklaar:
“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” (Mat 18:4)

GERING AG
Kindertjies ag hulle gering. Roep ons hulle vorentoe tydens die erediens, of vra ons iets, is hulle skaam. Kruip weg agter ma. ʼn Skoolkind sal nie sommer aanbied om voor te lees uit die Bybel nie. So was dit met die Joodse kindertjies ook: Nederig en op hulle plek. Anders as baie grootmense, wat voor wou sit in die sinagoge, lang gebede wou doen, weerskante van koning Jesus op sy troon wou wees.
BELANGRIKSTE
Wat maak jou belangrik in God se koninkryk? Nie jou ouderdom of status nie, maar nederigheid – om jouself baie min te ag. Nie hoogmoed nie. Nie meerderwaardig nie. Erkenning aan God as die enigste Koning van sy koninkryk. Onderdanig aan sy gesag. Waarom dan die belangrikste? Omdat jy daardeur deel kry aan die volheid van sy koninkryk, en nie jou eie koninkryk se belange daarmee laat bots nie.

Liewe gemeente,
In die Joodse gemeentes was die ouderdom van 13 jaar die tyd wanneer ʼn kind self godsdienstige verantwoordelikhede op hom geneem het. Die Bar Mitzwa, was soos ons belydenis van geloof, simbolies verbind aan die neem van die juk op jou skouers om self die wa te trek.
Tot op daardie ouderdom was ʼn belangrike kenmerk van ʼn kindjie sy afhanklikheid van sy ouers. Hy het in die huis en die gemeente geweet dat hy geen regte het, waarop hy kon aanspraak maak nie. Daarom was daar ʼn baie sterk verhouding tussen die kind en sy pa. Hy het sy vertroue op sy pa geplaas, want sy pa het vir hom veiligheid, ʼn tuiste en ʼn toekoms verseker.
'n Kind wat opstandig geword het, nie sy afhanklikheid erken en uitgeleef het nie, het sy posisie in die vaderhuis verbeur.
Teen hierdie agtergrond leer Jesus sy dissipels en vir ons iets oor omgee in die gemeente. Hoe ons gesindheid teenoor mekaar en teenoor God is, bepaal ons deel hê aan die koninkryk van die hemel.
As ons op ʼn Sondagoggend sou vra: Wie is die belangrikste in die gemeente? Dan sou ons aarsel om te sê. Daar kan antwoorde wees soos: ons oudste lidmaat, die getrouste ouderling, die hardwerkendste diaken, ...
Jesus was egter dadelik reg met 'n antwoord. Hy roep ʼn kindjie nader en verklaar:
“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” (Mat 18:4)


GERING AG
Jesus se gesprek met sy dissipels was nodig, omdat hulle onder mekaar gestry het oor wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel sou wees. Dit het verhoudinge vertroebel, want dan kom daar afguns en jaloesie. As hulle dan vir Jesus vra om uitspraak te gee, antwoord Hy met ʼn oproep tot bekering. Hy trek ʼn kindjie (onder 12 jaar) nader, sit sy arms om hom en sê:
“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.”
VERANDER = KOM TOT INKEER, VERANDER JULLE GESINDHEID.
Hulle wonder oor die belangrikste posisie. Jesus waarsku oor inkom in die koninkryk.
Word gering soos hierdie kindjie om wie ek my arms geslaan het. Laat toe dat jy geroep word, gelei word, liefde ontvang, sonder trots en sonder twyfel, met eenvoudige vertroue – dit is kindwees. Kinders wat niks besit nie, maar alles nodig het; wat nie in staat is om iets te doen nie, maar alles ontvang; wat niks verdien nie, maar alles as geskenk ontvang.
Kindertjies ag hulleself gering. Roep ons hulle vorentoe tydens die erediens, of vra ons iets, is hulle skaam. Kruip weg agter ma. ʼn Skoolkind sal nie sommer aanbied om voor te lees uit die Bybel nie. So was dit met die Joodse kindertjies ook: Nederig en op hulle plek.
Anders as baie grootmense, wat voor wou sit in die sinagoge, lang gebede wou doen, weerskante van koning Jesus op sy troon wou wees.

BELANGRIKSTE
Jesus het nou klaar gesê hoe jou gesindheid teenoor God moet wees. Soos ʼn kindjie teenoor sy pa, so moet jy afhanklik wees van jou hemelse Vader. In die bergrede het Jesus so begin: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Mat 5:3)
Maar dan antwoord Hy tog hulle vraag oor wie die belangrikste is.
“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.” (18:4)

Wat maak jou belangrik in God se koninkryk? Nie jou ouderdom of status nie, maar nederigheid – om jouself baie min te ag. Nie hoogmoedig nie. Nie meerderwaardig nie.
Die een wat streef om belangrik te wees, sal nie belangrik geag word nie. Daardie een wat homself verhef bo die ander gemeentelede, sal verneder word. Die persoon wat vanweë sy geld, sy geleerdheid, sy sterk persoonlikheid of mooi gesonde liggaam, meen om die belangrikste te wees – hy sal dit beslis nie wees nie.
Die vereiste is om jouself te VERNEDER. Jy moet jouself minder of gering, kleiner, ag. Selfs al is jy ʼn leier, ʼn vermoënde persoon, iemand na wie die mense opsien. Word nederig, soos Jesus, wees bereid om te dien en voete te was.
Wees voor God soos die kindjie in Jesus se arms. Hy was bereid om as voorbeeld gebruik te word, tussen die grootmense te staan, eintlik verneder te word. Hy staan nie op sy regte, eis om beter behandel te word, hardloop weg om met sy maats te gaan speel nie. Hy is gering, bereid om niks meer te wees as ʼn kind in Jesus se arms nie.
So moet ons word. Gee erkenning aan God as die enigste Koning van sy koninkryk. Wees onderdanig aan sy gesag. Moet nie slimmer wees as wat hy ons wil leer nie. vertrou volkome op Hom, erken dat jy net op grond van sy liefde, genade en barmhartigheid deel kry aan die hemelse koninkryk. Nou reeds burger daarvan is, deel van sy gemeente op aarde. Maar met die uitsien na die volle heerlikheid van die hemelse koninkryk.
Waarom dan die belangrikste? Omdat jy daardeur deel kry aan die volheid van sy koninkryk, en nie jou eie koninkryk se belange daarmee laat bots nie. Opregte nederigheid, wat nie aangeplak is, sodat mense jou moet sien en prys nie. Nie nederigheid as omkoopgeld om iets meer te ontvang nie. Nee, verander, kom tot bekering, klim van jou troontjie af, wees regtig uit jou hart uit bereid om niks te wees voor God nie.
As ek niks is, is ek belangrik in sy oë.
As ek klein is, is ek groot in sy koninkryk.
As ek my swakheid erken, is ek sterk in Christus.
Kom ons word soos daardie kindjie by Jesus, en soos ander kindertjies in ons gemeente. Dan het ons die sekerheid, die vrede in ons harte, dat ons geseën word met burgerskap van die hemelse koninkryk.
Dan gee ons om vir mekaar en trap nie op mekaar nie.
Dan dien ons mekaar en eis nie om op die hande gedra te word nie.
Dan word ons soos Jesus was, wat mens geword het, soos ʼn slaaf gedien het, bereid was om selfs sy lewe te gee ter wille van ons wat niks verdien nie.
Amen.
Matteus 26 - Die kruis – Die kruispunt van menslike teenstand en Goddelike gehoorsaamheid

Windhoek-Suid NAGMAAL 2017-04-13

LITURGIE BY DIE NAGMAAL
Toetreelied: Lb 231:1
ONS ONTMOET DIE HERE EN MEKAAR
Votum en groetseën
Sang: Ps 118-1:11,14.
Geloofsbelydenis
ONS LUISTER NA DIE WOORD
Matteus 26: 1-25
Sang: Lb 382:1,2.
BEDIENING VAN NAGMAAL
Sang: Psalm 23-1:3
Sang met toetrede: Lb 388:1,2,3.
Sang aan die tafel: Lb 393:1,2.
Formuliergebed
Lofprysing – formulier
Sang: Lb 389:1,3.
Wegstuurseën
Sang: Sb 13-3. Amen

FOKUSVERS:
“Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” 3In daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. 4Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. (Matteus 26:2-4)
FOKUSGEDAGTE: DIE KRUIS – DIE KRUISPUNT VAN MENSLIKE TEENSTAND EN GODDELIKE GEHOORSAAMHEID

Geliefde gemeente!
Die KRUISHOUT waaraan Jesus gesterf het, is tegelyk ook simbool van twee paaie wat op ʼn KRUISPAD mekaar ontmoet.
Enersyds die pad van sameswering teen Jesus om Hom dood te maak.
Andersyds die pad van gehoorsaamheid wat Jesus na die sonde-offer gelei het.
Op Golgota kruis hierdie twee paaie.
Tog is die pad van gehoorsaamheid die pad wat sonder einde is. Dit was ʼn bitter pad, dit gaan deur die helse pyn en smart. Dit breek egter ook die pad oop na die ewigheid.
Die vyande van die Here Jesus wou keer dat Hy voortgaan om die waarheid te verkondig. Hulle was jaloers oor sy gewildheid. Hulle was kwaad oor sy reguit vermanings. Daarom moes Hy doodgemaak word.
In Psalm 2 is reeds vooruit gesê:
2Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: 3“Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!” (Psalm 2:2,3)

Die Joodse leiers, Fariseërs, familieraadslede, skrifgeleerdes, Joodse Raadslede het telkens planne gemaak om Jesus uit die weg te ruim. Op slinkse agteraf manier is beplan, totdat Judas Iskariot betaal is om hom te verraai.
Jesus het vooruit geweet dat Hy gebore is om deur die kruisdood verlossing te bring. Daarom het Hy doelgerig die pad geloop. Hy het in Getsemane die angs en benoudheid van die kruis ervaar. Hy is versterk en het Homself oorgegee aan sy vervolgers. Hy het geen verdediging teen die valse aanklagte na vore gebring nie.
En dan – op een tydstip, maar op twee verskillende plekke – word die laaste voorbereidings getref. Jesus weet dat sy tyd naby is. Hy is doelgerig op pad na sy kruisdood. Hy berei sy dissipels al vir ʼn tyd lank daarop voor.
In daardie selfde tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak.
Die kruishout van Golgota is beslis die kruising van menslike weerstand teen die Seun van God en die goddelike gehoorsaamheid van die Seun van God.
By die instelling van die Nagmaal was Hy bewus van alles – omdat Hy God is. Van Petrus wat Hom sou verloën. Van Judas wat Hom sou verraai. Van die vernederende verhoor. Van die pyn van die geselhoue wat wag. Van die spykers wat deur sy hande en voete gekap sou word. Maar veral bewus van die angste van die hel wat Hy in sondaars se plek moes dra. Die losprys vir ons vryheid was sy bloed. Hy was bereid om gehoorsaam die pad te voltooi.
Liewe broers en susters, Jesus se gehoorsaamheid is vir ons die troos van Paasfees. Omdat Hy God en mens in een was, kon Hy die volle pad loop. Alles is volbring, sodat daar verlossing vir sondaars soos ons kon wees.
Maar Jesus se gehoorsaamheid is ook vir ons ʼn aanmoediging. Ons sal dikwels ervaar dat daar vyande is wat die pad vir ons moeilik maak. Teenstand om die goeie pad te loop. Soms is dit versoekings, soos die Satan vir Jesus versoek het. Soek jou sekerheid in oneerlike praktyke, maak geld jou baas. Gee toe aan jou liggaamlike begeertes. Voed jou sondige natuur met die kos van seksuele losbandigheid. Bring jou dae deur saam met vriende wat geen erg het aan die Here en sy Woord nie. Hou partytjies met genoeg drank en oorvloed van kos. Jesus het NEE gesê vir versoekings.
Ander kere is die teenstand op die regte pad openlike vyandigheid. Jou Christelike beginsels word bevraagteken. Die manier waarop jy jou kinders opvoed, word as outyds bespot. Daar kan subtiele of openlike vervolging wees, omdat jy dissipel van Jesus wil wees.
Soos Jesus weet ons vooruit dat die pad van gehoorsaamheid aan die hemelse Vader die moeilikste pad is. Dit moet ons nie verras as ons teenstand ervaar nie. Maar Jesus het ook geweet dat dit die pad van oorwinning is.
Daar sal vir jou ook tye van kruispaaie kom. Die kruispunt van versoekings en vervolging, wat bots met die pad van kruisdra en selfverloëning. Moet dan nie toegee aan die kortstondige voordele van die pad van die wêreld nie. die uiteinde daarvan is die ewige dood. Nee, volhard as navolger van Jesus Christus, op die pad van gehoorsaamheid. Die pad loop uit op die ewige lewe.
Gemeente! Wanneer jy by die nagmaalstafel kom, sal daar ʼn klein kruisie lê met twee balke: MENSLIKE TEENSTAND en GODDELIKE GEHOORSAAMHEID. Dit sal jou herinner aan die pad van Jesus. Laat dit jou ook aanmoedig om – soos Hy – deur die krag van die Here die pad van gehoorsaamheid te loop.
Amen!
Matteus 27 - Die Jesus wat Homself nie wou red nie.

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied: Lb 168:1.
Votum en groetseën.
Sang: Ps 148-2:1,7,9.
Geloofsbelydenis
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet: Romeine 8:9-17.
Sang: Sb 5-3:2.
Gebed
LIEFDEGAWES WORD OPGENEEM
WOORDDIENS
Sang: Lb 417:1.
Skriflesing en preek
Matteus 27:32-56. Matteus 28:1-10.
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Lb 425:1,2,3,4.
Wegstuurseën
Sang: Amen

FOKUSGEDAGTE: DIE JESUS WAT HOMSELF NIE WOU RED NIE
FOKUSVERS:
Hulle het die kop geskud en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!” (Matt 27:39-40)

Gemeente!
Dit is opstanding Sondag.
Die dag van oorwinning van die dood. Jesus se oorwinningsdag. Maar waarom moes so ʼn moeilike pad geloop word? Waarom eers die bitterheid van die lyding aan die kruis? Was daar nie ʼn ander en makliker pad vir ons Here nie?
Dit is vir ons belangrik om weer die pad na die kruis, die NOODSAAK van die kruis, te oordink voordat ons die diepte van die oorwinning oor dood kan verstaan.
Waarom het Jesus nie gedoen wat sy spottende vyande by Golgota gevra het nie? Die verbygangers skud die kop en roep: “Bewys dat jy die Seun van God is!” Hoe? Deur van die kruis af te kom. Deur jouself te verlos.
“Jy het gesê dat jy die koning van die Jode is – bewys dit nou!” word die venynige woorde van priesterhoofde afgevuur, saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde. Hy het mos gelaster deur te beweer dat hy die Seun van God is – en nou? “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie.” Jy het gesê dat jy op God vertrou. Laat God jou nou red as Hy dan van jou hou!
Wat 'n uitdaging! 'n Mens wil amper sê: Jesus kon nie anders nie. Hy moes van die kruis afkom. Daar was so baie op die spel. Hy moes bewys wie Hy is. Maar tog het Hy nie. Waarom nie?
ONS KYK NA 'N PAAR REDES.
1) JESUS GEE SY LEWE – DIT WORD NIE GENEEM NIE
Ons moet onthou dat Jesus nie hulpeloos aan die swak en oneerlike regter Pilatus, of die oordeel van die Joodse leiers, moes toegee nie. Hulle het nie sy lewe geneem nie. Nee, inteendeel! Hy het sy lewe oorgegee. Hy het Homself geoffer.
Die pad na Golgota bevestig dit. Jesaja 53 het dit vooruit gesê:
“As hy sy lewe as skuldoffer GEE, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.” (Jes 53:10)

Jesus het ook self verklaar. Toe Hy verduidelik het dat Hy die goeie herder is, het Hy DRIE MAAL gesê dat die Herder nie sy lewe sou verloor nie. Nee, Hy het sy lewe gegee!
Eerstens: Hy is anders as die huurling wat weghardloop as daar gevaar kom: Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. (10:11).
Die tweede keer sê Jesus, dat Hy sy skape ken, net soos die Vader Hom ken. En Hy voeg by: “Ek lê my lewe af vir my skape.” Derdens sê Jesus: 17“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. 18Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.” (17-18). Duideliker kon dit nie gesê word nie. Die Vader het sy Seun lief, omdat Hy gehoorsaam is aan sy opdrag. Niemand neem Jesus se lewe af nie. Hy lê dit uit sy eie af.
Liefde is die dryfveer. Omdat Jesus sy skape met liefde ken en lei. En ook omdat God die Vader Hom liefhet. Daarom gee herder Jesus vrywillig sy lewe.

2) DIE KRUISDOOD WAS ‘N VERVLOEKTE DOOD
Maar daar is nog ʼn ANDER REDE waarom Jesus nie van die kruis afgekom het nie. Nog ʼn rede waarom Hy die pad van lyding gekies het. Ons lees dit in Galasiërs 3:
“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is.” (Gal 3:13)
Ook hieroor het Jesaja geprofeteer:
“Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes 53:5)

Jesus se woorde, dat Hy gekom het om sondaars te roep, is deur sy optrede bevestig. Hy het mens geword om verlosser te wees van verlore mense, tollenaars, sondaars, wetgeleerdes, slegte vroue, en noem dit op.
En daar was net een manier om vir sondaars verlossing te verkry – deur vir hulle sondes te betaal. Dit word genoem: Die losprys. Mense wat die vloek van God sou dra, vanweë hulle sondes, word losgekoop. Aan die vervloekte kruishout sou Jesus sterf.
Daarom kon en wou Hy nie van die kruis af kom nie. Hy sou geen verlosser kon wees sonder die kruisdood nie!

3) OPSTANDING AS OORWINNAAR
Vanoggend gedenk ons die opstanding uit die dood van Jesus, die Seun van God. Hy het nie die uitdaging van die spotters aanvaar en van die kruis gekom nie. Hy het juis aan die kruis gebly totdat Hy kon uitroep: Dit is volbring!
Met sy dood was kragtige tekens dat Hy nie maar ʼn gewone dood gesterf het nie. Nee, op Golgota het die Seun van God as goeie herder sy lewe gegee. Onthou jy sy woorde: “Vader, in u hande gee ek my gees oor!” Drie ure donkerte, helder oordag, aardbewing, grafte wat oopgaan en dooies wat lewendig word, die voorhangsel in die tempel wat van bo af middeldeur skeur.
Op die derde dag was Jesus se graf leeg.
Jesus het sy lewe weer opgeneem.
Elkeen wat in Hom glo, kry deel aan die oorvloed en lewe van die goeie herder. Nie net omdat Hy uit liefde vir sy Vader en uit omgee vir sy skape sy lewe aan die vervloekte kruis geoffer het nie. Maar ook omdat Hy die dood oorwin het.

ONS TROOS VIR PAASFEES
Ons kan opnuut vandag verseker wees van die NOODSAAK van Jesus se lyding aan die kruis.
Sonder die kruisdood sou Hy nie Seun van God wees nie.
Sonder die kruisdood sou Hy nie die vloek van sondaars in hulle plek kon dra nie.
Deur sy lyding is ons vrygespreek van enige straf vir sonde. Hy het reeds volledig daarvoor betaal.
Slegs omdat Hy aan die kruis gebly het en nie toegegee het aan sy spotters se eise nie, kon Hy op die derde dag as oorwinnaar uit die graf opstaan.
Waarlik, Jesus van Nasaret, is die Seun van God, ons Verlosser. Gaan, verkondig dit aan elkeen wat nog vasgevang is in die dwaasheid van die sonde.
Verkondig dat daar geen verlossing moontlik is deur goed te probeer lewe nie.
Verkondig dat daar vir elke sondaar wat na Christus kom, volkome verlossing is. Hy ken jou voordat jy Hom geken het.
Waarom het Jesus die moeilikste pad gekies? Hy het aan die kruis gebly, sodat ons nooit hoef te twyfel dat Hy waarlik Seun van God, ons goeie Herder en Verlosser is nie.
Amen.
Matteus 28 - Die Here praat vooruit, tydens en na die groot gebeure.

LITURGIE BY DIE OGGENDDIENS
Voorafsang: Sb 20-1: 1,6,7. Lied 188:1,3.
ONTMOETINGSDIENS
Toetreelied Ps 89-1:6
Votum en groetseën.
Lofsang: Ps 67-2:1,2.
Geloofsbelydenis
Sang: Sb 13-2 Amen
VEROOTMOEDIGING- EN VERSOENINGSDIENS
Wet Deut 5
Sang: Sb 9-3:1
LIEFDEGAWES
WOORDDIENS
Gebed
Sang: Sb 15-7:1,2.
Skriflesing en prediking
Matteus 28: 1-10
ANTWOORDDIENS
Gebed.
Sang: Sb 18-1:1
Wegstuurseën

Fokusgedagte:Die Here praat vooruit, tydens en na die groot gebeure
Fokusverse:
Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het.(Mat 28:6)

OORSIG
In die krisistyd van onsekerheid na Jesus se kruisiging was die anker vir sy volgelinge die vervulling van sy woorde. Die engel by die graf herinner die vroue, wat Jesus se dooie liggaam wou gaan versorg, dat Hy dinge vooruit gesê het. Belangrike dinge!
Hulle het dit vergeet!
So het sy dissipels vergeet!
Hoeveel onthou ons van Jesus se woorde?
Jesus Christus is Seun van God, die Woord wat mens geword het. Sy woorde gee die lewe. Dit is kosbaar, die moeite werd om te lees, te herdink en te onthou.
Veral in tye soos ons vandag beleef, is dit Jesus se woorde wat vir ons perspektief bring. Wees getrou om daarna te luister en dit te bewaar.


Liewe Gemeente!
Die Maria’s het met goeie bedoelings by Jesus se graf aangekom. Markus skryf dat hulle sy liggaam met reukolie wou gaan balsem.
Goeie bedoelings, maar met 'n swak geheue.
'n Onverwagse verloop van sake bring hulle by die waarheid. 'n Aardbewing, 'n blinkwit engel, wagte wat flou word. En dan praat die hemelse wese met hulle. 'n Boodskap uit die hemel, kort en kragtig.
Ek weet wie julle soek – 'n gekruisigde Jesus.
Hy is nie hier nie – nee, Hy leef, Hy is opgewek uit die dood. Onthou julle nie wat Hy vir julle gesê het nie?
Hulle word herinner aan Jesus se WOORDE.
Kyk na sy graf – dit is leeg.
Gaan vertel nou vir sy dissipels.

Toe hulle hardloop om vir die dissipels die boodskap te gaan gee, kom hulle op Jesus self af. Ook Hy stuur hulle na sy dissipels met die boodskap: Hulle moet na Galilea gaan. Hy sal hulle daar ontmoet.
Die kern van die boodskap is dat Jesus uit die dood opgewek is ... SOOS HY GESÊ HET!
Die mense wat die naaste aan Jesus was, het in daardie geskokte toestand vergeet wat Hy vroeër gesê het.
Die verwerping van Jesus, sy onregverdige veroordeling, die stukkend geslaande man, wat nie sy kruis verder kon dra nie, die bittere lyding aan die kruis, en sy dood.
So anders was die einde!
Hulpeloos is Hy aan die hande van gevoellose soldate oorgegee. Geen simpatie, net verdere smaad en spot. So maklik om dan die beloftes te vergeet.
EN ONS, VANDAG?
Net so dikwels vergeet ons ook Jesus se woorde.
Wanneer ons nodig het om te onthou, ly ons aan geheueverlies. In hartseer, tydens ernstige siektes, wanneer ons oud geword het, wanneer dit lyk of die hel op aarde losgebreek het. Dan moet ons onthou wat Jesus gesê het, maar dan vergeet ons net soos die Maria's en soos Jesus se dissipels.
GOD STUUR WEER DIE BOODSKAP
Ons hemelse Vader weet dat ons sy woorde nodig het. Dit gee lewe, dit bemoedig, daaruit put ons krag, daardeur word ons gelei.
Daarom het Hy 'n engel gestuur om by die graf met die vroue te praat. In hulle geskokte toestand, met gedagtes wat dwarrel, kom die verduideliking:
"Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het." (Mat 28:6)

Opvallend dat die engel niks nuut sê nie, maar hulle slegs herinner aan wat Jesus reeds gesê het.
Ja, werklik, DIE HERE PRAAT VOORUIT, TYDENS EN NA DIE GROOT GEBEURE. Nie minder nie as drie maal het Jesus vroeër hieroor gepraat.
Na die belydenis van Petrus oor wie Jesus is -

  • Mat 16:21-22 - Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.
    Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: "Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie."

  • Mat 17:22-23 Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: "Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word." Hieroor het hulle baie bedroef geword.

In Galilea – dissipels word bedroef. Was dit dalk die rede dat hulle nie die belofte van die opstanding gehoor het nie?

  • Mat 20:17-19 Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: "Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word."

Baie duidelike besonderhede oor wat op Jesus wag – tog onthou die vroue en dissipels dit nie. Lukas 18:34 –
"Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie."

As die engel dus vir die vroue by die graf sê: "soos Hy gesê het", word minstens na hierdie drie geleenthede verwys.
Tog onthou sy volgelinge dit nie!
En hoe belangrik was die feite nie! Dit is die belangrikste gebeure in die geskiedenis van die kerk, ja in die geskiedenis van die ganse mensdom. Die kruisdood en opstanding van die Seun van God, Jesus Christus, ons Verlosser. Die feit dat Hy uit die dood opgestaan het, is juis die bevestiging dat sy woorde waar is, dat Hy is wie Hy gesê het dat Hy is!
Daarom stuur God die engel om die vroue en dissipels te herinner. So sou Hy weer en weer, tot vandag toe, die waarheid oor Jesus se oorwinning van die dood en hel herhaal.
ONTHOU ONS GENOEG VAN WAT JESUS GESÊ HET?
Liewe gemeente! Hoe goed ken ons Jesus se woorde?
Onthou ons dit wat Hy oor Homself en sy verlossingswerk gesê het? Hou ons vas aan sy beloftes oor wie Hy is, en dat Hy by ons sal wees tot die einde toe? Wanneer ons die Skrif met aandag lees, sal ons God se groot genade in sy kontak met ons besef. Hy sê vooruit, tydens en nadat iets gebeur het vir ons waarheen Hy op pad is.
Kom ons som 'n paar van Jesus se uitsprake op:
33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.Matteus 6:31-34

My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.Johannes 10:27-30

13Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig. 14Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie.

17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.Lukas 21:9-19

Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. 25Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.Matteus 24:24-25

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.Matteus 28:20

Dié manne met wit klere sê toe vir hulle: "Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het." Handelinge 1:11

Dit is sulke belangrike beloftes en opdragte! Ons moet dit nie vergeet nie. Hoe kan ons onthou? Volhard om die Woord te lees, te oordink, uit te dra, self te doen! Volhard in gebed. Herinner mekaar, bemoedig mekaar! Die Here gebruik ons om mekaar in tye van geheueverlies te ondersteun.
Waak teen oppervlakkige trooswoorde van mense!
Hou vas aan wat Jesus vooraf gesê het.
Hy het die derde dag opgestaan.
Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader.
Hy is altyd by ons.
Hy hou ons in sy hand vas, en tel ons hare elke dag.
Hy sal weer kom.
DIE HERE PRAAT VOORUIT, TYDENS EN NA DIE GROOT GEBEURE. Laat dit ons krag en sterkte wees, elke dag van ons lewe.

Amen.